fbpx

Jy kan jou kind leer lees

As jou kind nou oud genoeg is om te begin leer lees of sy toon tekens van gereedheid, kan jy angstig of oorweldig voel by die gedagte om haar te leer lees. Of dalk is jy opgewonde en gretig om die uitdaging aan te pak.

Om jou kind te leer lees is ‘n belangrike deel van hul ontwikkeling. Lees is nie net ‘n belangrike vaardigheid vir akademiese sukses nie, maar dit help ook met kommunikasie, kreatiwiteit en probleemoplossing. As ‘n ma speel jy ‘n deurslaggewende rol in jou kind se leerreis.

Maar daar is een vraag wat die meeste mammas in gemeen het: Hoe leer ek my kind lees?

Alhoewel daar baie effektiewe benaderings is, vertel ek graag hoe ons dit doen.

Stap 1: Begin met klanke

Klanke is ‘n metode van leesonderrig wat fokus op die klanke wat letters en letterkombinasies maak. Die onderrig van klanke kan jou kind help om woorde te herken en met meer akkuraatheid te lees. Jy kan begin deur individuele klanke bekend te stel. Die gewildste stel letters om mee te begin is “s”, “a”, “t”, “p”, “i” en “n.” Of jy kan selfs besluit om met die letters in jou kind se naam te begin.

In my huis het ons alfabet-plakkate met ‘n assosiasie-prentjie op die muur geplak waar dit gereeld gesien word. Daar was gou genoeg belangstelling in die letters en hul prentjies en kon ons lekker daaroor gesels.

Onthou, dit is noodsaaklik om die werklike klank wat die letters maak, te gebruik. Moenie die letters uitspreek soos wanneer jy die alfabet opsê nie. Byvoorbeeld, moenie “a” soos in “arend” sê nie, maar eerder “a” soos in “appel” en nie “e” soos in “eland” nie, maar eerder soos in “emmer”. Dieselfde met die konsonante. Moet dit nie as “bee”, “cee”, “dee”, “ef” uitspreek nie, slegs die klank wat dit maak.

Ons hou van die letter-van-die-week-benadering. Elke week word ‘n nuwe letter gekies en interessante temas wat by die letter aansluit, word bygevoeg. In die a-letter se week, kan julle oor appels leer (identifiseer en proe die verskillende soorte appels, teken, weeg en sorteer hulle); bak ‘n appeltert saam; besoek ‘n appelplaas; plant die appelsade en leer wat plante nodig het om te groei. Kies ‘n geskiedkundige persoon wie se naam met die letter begin en leer meer oor hom, soos Albert Einstein. Leer meer oor akkedisse en gaan hou hulle in die tuin dop, leer om een te teken.

Ons drukbare Graad R-alfabetpak kan ‘n goeie raamwerk bied! Dit bevat alfabet-muurplakkate sowel as prettige en uiteenlopende werkkaarte wat die letter-van-die-week-benadering volg. Gebruik dit as ‘n raamwerk en bou daarop met jou eie aktiwiteite, uitstappies en idees.

Speel ook tussenin ouditiewe speletjies om seker te maak dat jou kind begin-, middel- en eindklanke van woorde kan hoor en identifiseer. Klik hier vir ouditiewe hulpbronne.

Stap 2: Bou eenvoudige woorde

Wanneer jou kind redelik bekend is met baie van die letters, kan julle nou begin om eenvoudige woorde met kort klanke soos “kat”, “bed”, “vis”, “pot” en “bus”, te bou. Bou woorde met uitgeknipte letters; skryf die woorde in die sand; of leer speel-speel deur ander kreatiewe speletjies te speel. As dit goed gaan, kyk of jy ‘n ekstra letter kan byvoeg om woorde soos “trok”, “skat” en “blom” te vorm. Probeer selfs om die ng-klank (soos in ring) bekend te stel. Klik hier vir woordbou-hulpbronne.

Stap 3: Sigwoorde

Om algemene sigwoorde soos “die”, “my”, “hy”, “het” en “is,” tussendeur ook in te oefen, is uitstekende voorbereiding vir wanneer jy eenvoudige sinne wil bekendstel.

Stap 4: Lees eenvoudige sinne

Maak gebruik van prettige leesboekies vir beginners. Jy kan help wanneer hy met ‘n woord sukkel, of gee hom kans om self uit die konteks te probeer aflei wat die woord is. Sommige kinders het ‘n uitstekende geheue. As jy vind dat jou kind nie meer lees nie, maar opsê, vra hom om die boek nou van die laaste bladsy vorentoe te lees of bedek die prentjies sodat daar nie meer enige leidrade oor die leesstuk is nie.

Stap 5: Voeg ander klankgroepe by

 Soos jou kind vorder, voeg nuwe klankgroepe by:
  • Ná die kort klanke (a, e, i, o, u), volg die lang klanke (aa, ee, oo, uu). 
  • Dan die tweeklank-woorde (ie, ei, ou, oe, eu, ui). 
  • En dan kan die drieklank-woorde (aai, eeu, ooi, oei) bygevoeg word. 
  • Maak ook elke keer gebruik van gepaste leesboekies wat help om hierdie woorde in te oefen.

Probeer ook om daagliks hardop vir jou kind te lees. Dit is een van die beste maniere om geletterdheid te bevorder. Om hardop te lees help hulle om hul luistervaardighede te ontwikkel, bou hul woordeskat en stel hulle bloot aan nuwe idees en konsepte. Lees stories wat julle albei sal geniet. Bespreek die storie, vra vrae en geniet die ontdekking. Dit is ‘n wonderlike geleentheid om julle verhouding te versterk.

Laastens, onthou dat elke kind anders is, hulle sal teen hul eie pas vorder. Laat jou kind die pas aangee. Met geduld, inoefening en baie aanmoediging, kan jy jou kind help om ‘n lewenslange leser te word! 

* Benodig jy hulp of wil meer weet, klop gerus by Janet Kieswetter van Kieswetter Klaskamer aan vir oulike en goeie raad om jou kind te leer lees.

Shopping Cart
Scroll to Top